Die US Argief

Toegang tot die Argief word tans beperk, as gevolg van die brand wat gedeeltes van die Wilcocks gebou in Desember 2010 verwoes het.  Vir meer inligting kontak die Argivaris.

Die Universiteitsargief (US Argief) huisves dokumente, foto's en versamelings wat die geskiedenis van die Universiteit weergee.

Die US Argief het ten doel die insamel, bewaring en beskikbaarstelling van dokumente en fotomateriaal wat die geskiedenis van die Universiteit, asook sy voorgangers, Victoria College en Stellenbosch College, weerspieël. Die Universiteit is egter ook deel van die breër Stellenbosse gemeenskap en wil - benewens sy alumni - ook 'n wyer diens aan die publiek lewer. Hierdie diens is aanvullend tot die dienste wat reeds deur die Universiteitsmusem, die Afdeling Spesiale versamelings van die JS Gericke-Biblioteek en die Stellenbosch Stigting gelewer word.

Die US Argief spits hom in die eerste plek daarop toe om die amptelike dokumente soos besluite en notules van senaats- en raadsvergaderings vanaf die ontstaan van die Universiteit in te samel, te bewaar en toeganklik te maak. Die oudste dokument (die notuleboek van die Stellenbosch Gymnasium) dateer uit die jaar 1864 en is die eerste van 'n feitlik ononderbroke reeks dokumente van notules en finansiële rekords wat die geskiedenis van die eertydse Stellenbosch en Victoria Colleges - waaruit die Universiteit van Stellenbosch in 1918 ontstaan het - reflekteer.

Versamelings word van tyd-tot-tyd aangevul deur dokumentasie wat vanaf die tussenbewaarplek (die Afdeling Pos- en Liassering) na die US Argief oorgeplaas word.

'n Belangrike komponent van die argiefversameling is die Watson-Lockley glasnegatiefversameling wat die geskiedenis van die Universiteit en dorpsgemeenskap vanaf die einde van die negentiende eeu tot en met 1966 visueel uitbeeld.

Die Universiteitsargief resorteer onder die Afdeling Akademiese Administrasie.


Terme en Voorwaardes (.pdf)
Webregulasie (.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch