Studenteterugvoer is 'n belangrike sentrale proses gemik op die ondersteuning en bevordering van onderrig aan die Universiteit Stellenbosch. Die Sentrum vir Onderrig en Leer hanteer die administrasie van die studenteterugvoerstelsel, bv die onderhou van studenteterugvoervraelyste, die prosessering en stoor van alle terugvoerdata, asook die samestelling en verspreiding van studenteterugvoerverslae aan fakulteite.
Die studenteterugvoerkantoor wil graag fakulteite en/of departemente aanmoedig om die volgende uitgangspunte oor die gebruik van studenteterugvoer in gedagte te hou:
·Die gebruik van studenteterugvoer behoort eerstens ten doel te hê om individuele dosente te bemagtig ter bevordering van hul eie onderrig, en behoort eers daarna, met groot omsigtigheid, vir enige ander doel aangewend te word.
·Die betroubaarheid van studenteterugvoerresultate kan deur verskeie faktore beïnvloed word (bv grootte van die klasgroep, die tydstip van die afname, ensovoorts). Hierdie, en ander faktore wat moontlik 'n rol mag speel, moet tydens die interpretasie van die resultate in berekening gebring word. Fakulteite en/of modules behoort dus nie bloot met mekaar vergelyk te word sonder om hierdie faktore in ag te neem nie.