ENGLISH
 
FAQ's
  1. Wat is die doel van Studenteterugvoer?

    Studenteterugvoer kan verskillende doelwitte vir verskillende gebruikers hê, bv. het jy die data nodig vir insluiting in 'n onderrigportefeulje, ervaar jy een of ander probleem in jou onderrig, beplan jy om die kurrikulum te verander, was daar beduidende veranderings in die module/program of dalk in die besondere kohort van studente?

    Van die hoofdoelwitte van studenteterugvoer sluit onder andere die volgende in:

      • Bevorder die studente se leer- en onderrigervaring
      • Dra by tot monitering en hersiening van kwaliteit en standaarde
      • Verseker die effektiwiteit van kursusontwerp en -lewering
      • Maak dialoog met studente moontlik
      • Help studente om oor hul eie ervarings te reflekteer
      • Dis 'n belangrike deel van die onderrig- en leerproses
      • Help met identifisering van goeie praktyk
      • Dra by tot personeelontwikkeling
      • Sien ook punt 2 van Universiteit Stellenbosch se Studenteterugvoerbeleid

  2. Hoe kan studenteterugvoer verkry word?

    By Stellenbosch Universiteit word studenteterugvoer op gestandaardiseerde terugvoervraelyste vir voorgraadse modules, gedoseerde nagraadse modules, dosente en programme verkry. 'n Databank van addisionele vrae is ook beskikbaar waaruit items geselekteer kan word om meer dissipline-spesifieke inligting in te samel.

    Verder kan studenteterugvoer opgeneem word binne 'n papiergedrewe sisteem, deur die gedrukte vraelyste in 'n klas aan studente te versprei. Hierdie metode bied die voordeel van 'n "vasgevange" gehoor en kan die responskoerse verhoog. Dit is egter 'n baie meer arbeidsintensiewe en duurder proses. Dit neem ook heelwat langer om die data te prosesseer en dit neem daarom ook langer om die verslae aan dosente en hul lynbesture beskikbaar te stel. Studenteterugvoer kan wel ook elektronies opgeneem word deur die vraelyste binne Webstudies beskikbaar te stel. Studente kan dan die vraelyste elektronies oor 'n vasgestelde tydperk voltooi. Voordele van die elektroniese stelsel is dat dit meer koste- en tydeffektief is, vereis minder arbeid en verslae kan vinniger beskikbaar gestel word. Binne die elektroniese stelsel is daar egter die risiko dat responskoerse laer mag wees. Dosente wat dus die elektroniese proses verkies, word aangemoedig om studente gereeld te herinner om die elektroniese vraelyste te voltooi.

  3. Wie kan gekontak word indien ek graag studenteterugvoer elektronies wil verkry?

    Voltooi asseblief die e-registrasievorm.

  4. Hoe bestel ek papier kopieë van studenteterugvoervorms?

    Lees meer oor papiergedrewe studenteterugvoer.


  5. Wanneer sal ek terugvoervorms wat ek bestel het, ontvang?

    Sodra die Studenteterugvoerkantoor jou bestelling en rekwisisie ter betaling ontvang (soos verduidelik onder 4 hier bo) sal jou versoek geprosesseer word. Indien die kantoor genoegsame vorms volgens jou versoek in voorraad het, kan jy jou vorms binne 'n maksimum van drie dae werksdae by die kantoor afhaal. Sou dit egter nodig wees om vorms by die US Drukkers te laat druk, moet ten minste een maand toegelaat word vir hierdie proses. Sodra die Studenteterugvoerkantoor jou laat weet dat jou vorms gereed is, kan 'n personeellid van jou departement die vorms by Kamer 1008, Skuilhoek, Victoriastraat 41, Stellenbosch afhaal. Dit sal enige onnodige verlies aan tyd en vorms wat verlore raak binne die interne posstelsel verhoed. Vorms sal slegs op spesiale versoek binne die interne posstelsel aangestuur word.

  6. Wat gebeur wanneer die Studenteterugvoerkantoor die voltooide terugvoervorms ontvang?

    Die studenteterugvoer word in 'n opgawe-leêr (logfile) wat deur die Studenteterugvoerkantoor gehou word, aangeteken. Die voltooide vraelyste word geskandeer (die Studenteterugvoerkantoor besit een skandeerder) en word sorteer in 'n Excel-leêr. Oop (woordelikse) kommentaar word in 'n Word-dokument getik. Die data uit die Excel-leêr en Word-dokument word verwerk en saamgevoeg in 'n verslag wat geaggregeerde statistiese inligting, grafieke en oop kommentaar bevat. Terugvoer word in chronologiese volgorde verwerk, met ander woorde, in die volgorde soos wat dit deur die Studenteterugvoerkantoor ontvang word.

  7. Wanneer sal ek my studenteterugvoerverslag ontvang?

    Indien jy terugvoer binne die papierstelsel opgeneem het, behoort jy jou verslag binne 4-6 weke te ontvang. Verslae oor terugvoer wat elektronies opgeneem is, behoort binne 7 werksdae na sluiting van die opname beskikbaar te wees. Jou verslag sal in 'n verseëlde koevert via die interne posstelsel aan jou, die departementele voorsitter en dekaan gestuur word. Hierdie stelsel gaan egter mettertyd deur 'n elektroniese verspreidingstelsel vervang word. Binne die elektroniese stelsel sal verslae op dosente se personeelportaal op Sun-e-HR gelaai word, met elektroniese kopieë aan die departementele voorsitter en dekaan. Kliek hier vir meer inligting.

  8. Is daar enige riglyne wat my kan help om my studenteterugvoer te interpreteer?

    Die volgende riglyne kan jou help om jou studenteterugvoer te interpreteer.

    • Let op die verteenwoordigendheid van die response. Indien die aantal studente wat die vraelys voltooi het minder as ongeveer 60% van die totale aantal geregistreerde studente vir die betrokke module is, mag die response moontlik nie verteenwoordigend wees van die persepsies van al die studente wat jou onderrig ervaar het nie.
    • Die statistiese verslag gee die respons-analise van alle individuele vraagitems in die vraelys.

      Vir elke vraagitem toon die analise die volgende:
        • Die getal studente wat elk van die moontlike response gelewer het
        • Die persentasie van studente wat elk van die moontlike response gelewer het (bereken oor die aantal wat die betrokke vraagitem beantwoord het, wat moontlik minder mag wees as die aantal studente wat die vraelys voltooi het)
        • 'n grafiese voorstelling van daardie persentasies
        • Die gemiddelde en standaardafwyking
        • Die studente se oop kommentaar word saam met die statistiese verslag aan u verskaf. Die oop kommentaar verskaf gewoonlik addisionele inligting ter oorweging wanneer die statistiese verslag geïnterpreteer word. Aangesien die oop kommentaar tipies die mees kritiese positiewe en negatiewe aspekte van studente se ervaring van die onderrig- en leerproses insluit, is dit dikwels die mees waardevolle deel van studenteterugvoer ten einde potensiële verbeterings in onderrig aan te wys.

    Met jou kennis van die betrokke module/eenheid en die materiaal gebruik, sal jy in die beste posisie wees om jou terugvoerdata te interpreteer. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat studentepersepsies deur verskeie aspekte van die onderrig- en kurrikulumkonteks gevorm word. Byvoorbeeld, 'n module met min studente wat hoofsaaklik in klein groepe onderrig word en deurlopende assessering gebruik, sal waarskynlik meer positief geëvalueer word as 'n module met groot studentegetalle waar lesings die hoofvorm van onderrig is en studente geassesseer word deur middel van 'n finale eksamen. Elektiewe modules word dikwels ook ook meer positief beskou as verpligte modules.

    Dit moet ook ingedagte gehou word dat studente puntetoekennings maak in die afwesigheid van ooreengekome kriteria van wat as "bevredigend" beskou word. Byvoorbeeld, 'n toekenning van 4 kan gemaak word deur verskillende studente op grond van verskillende redes en kan dus verskillende standaarde reflekteer.

    Dit moet ook beklemtoon word dat studenteterugvoer via vraelyste slegs een bron en metode van inligtingversameling is. Ander bronne soos terugvoer vanaf eweknieë en ander metodes soos groepbesprekings, kan ook waardevolle inligting verskaf en behoort oorweeg te word tydens die evaluering van onderrig.

    Indien jy die interpretasie van jou studenteterugvoer wil bespreek, sal 'n personeellid van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) graag met jou ontmoet nadat jy jou verslag oorweeg het. SOL-personeel is ook beskikbaar om enige aspek van jou onderrig of module-kurrikulum wat jy graag verder wil ontwikkel na aanleiding van die studenteterugvoer, te bespreek.

  9. Kan dosente ook insette lewer in die studenteterugvoerproses?

    JA! Ons moedig dosente aan om die Dosenteterugvoervorm te voltooi en saam met die voltooide studenteterugvoervorms aan die Studenteterugvoerkantoor te stuur. Hierdie vorm gee dosente die geleentheid om verslag te gee oor hul eie ervaring in die onderrig van die betrokke module en kan help om die studenteterugvoer binne konteks te plaas. Die Dosenteterugvoervorm hier kan afgelaai word

  10. Hoeveel kos die Studenteterugvoerkantoor se dienste?

    Dienste in terme van die prosessering van normale studenteterugvoer word gratis aan personeel van die Universiteit Stellenbosch aangebied. Fakulteite betaal slegs vir die gedrukte studenteterugvoervraelyste wat bestel word. In die geval van spesiale projekte wat buite die omvang van die normale studenteterugvoerproses val, sal daar kostes verbonde wees aan die inkontraktering van 'n informasietegnologie-spesialis vir die verwerking van data, asook ekstra hulp vir voltooiing van tikwerk.

  11. Met wie kan ek praat indien ek vrae het oor die bestel en administrering van my studenteterugvoervorms, of die prosessering van my verslag?

    Minnie van Zyl, minnievz@sun.ac.za, 021-808 3081

  12. Ek wil graag my eie vraelys ontwerp. Is daar iemand wat my hiermee kan help?

    Melanie Petersen, mpeter@sun.ac.za, 021-808 3544

  13. Met wie kan ek praat oor kurrikulumhersiening en onderrigevaluering op institusionele vlak?

    Melanie Petersen, mpeter@sun.ac.za, 021-808 3544

  14. Is daar aanbevole leeswerk of publikasies oor die bevordering van die kwaliteit van onderrig?
    • Bain, K. (2006). What the best college teachers do. Cambridge, MA: Harvard University Press.
    • Biggs, J.B. (2003). Teaching for quality learning at university. Open University Press: Buckingham.
    • Erickson, B.L., Peters, C.B., & Strommer, D.W. (2006). Teaching first-year college students. San Francisco: Jossey-Bass.
    • Kember, D., & McNaught, C. (2007). Enhancing university teaching: lessons from research into award-winning teachers. London: Routledge.
    • Marsh, H.W., & Roche, L.A. (1994). The use of students’ evaluations of university teaching to improve teaching effectiveness. Canberra: Australian Government Publishing Service.
    • McKeachie, W. (2002). McKeachie’s teaching tips: Strategies, research and theory for college and university teachers. Boston: Houghton Mifflin Co.
    • Prosser, M. and Trigwell, K. (1999). Understanding learning and teaching: The experience in higher education. Buckingham: Open University Press.
    • Ramsden, P. (2003). Learning to teach in higher education. London: Routledge.
    • Ramsden, P., & Dodds, A. (1989). Improving teaching and courses: A guide to evaluation. Melbourne: University of Melbourne.

 

Terug na bo

 

Terme en Voorwaardes(.pdf)
Webregulasie (.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Stellenbosch Universiteit