ENGLISH
Fakulteit » Personeelsake

Boodskap van die Dekaan

Die Universiteit se Desember-gradeplegtigheid het gekom en gegaan en soos ons almal weet, dui hierdie seremoniële, week lange geleentheid in wese die einde van die akademiese jaar by ons instelling aan. Dit was 'n propvol jaar met baie uitdagings langs die pad. Tog is ek trots om te kan sê dat ons, ondanks hierdie uitdagings, op 'n suksesvolle 2012 kan terugkyk.

Dáárvan is ek seker, veral as ek kyk na ons Fakulteit se nuusbrief, LETTER, wat dien as nie-amptelike rekord van die verskillende projekte, navorsingsbedrywighede en prestasies van ons personeel en studente elke jaar. Vir 'n kykie na hoe goed hierdie Fakulteit vaar, laai gerus 'n eksemplaar van enige uitgawe van LETTER van die internet af en verlustig jou in hoeveel ons in enige bepaalde jaar in hierdie Fakulteit bereik en aanpak. Die Desember-uitgawe bevat byvoorbeeld 'n diepte-artikel oor mnr Alastair Henderson, 'n konsultant in die Nagraadse Eksamineringskantoor, wat aan die einde van die jaar ná 'n ongeëwenaarde dienstydperk van 51 jaar uittree en hom daarmee as die Fakulteit se "institusionele geheue"’ gevestig het. Benewens Henderson, tree Piet Eloff van die Departement Geografie en Omgewingstudie ook ná 38 jaar van toegewyde werk saam met studente - gedurende kantoorure én nauurs - af, terwyl Johan Esterhuizen ons van sy interessante loopbaan as akteur en regisseur vertel, sowel as van sy 22 jaar as opvoeder in die Departement Drama, waar hy veral by gemeenskapsteater betrokke was.

Die eerste adjunkdirekteur van die Afrika Doktorale Akademie (ADA), prof Frans Swanepoel, het hom in Oktober vanjaar by ons Fakulteit aangesluit. In die jongste LETTER bespreek hy die uitdagings waarvoor Suid-Afrika te staan kom in die strewe om sy aantal doktorale gegradueerdes van 1 200 tot 6 000 per jaar te verhoog, sowel as planne om die werk van die ADA uit te brei. Studente van die Departement Afrikatale is daadwerklik betrokke by gemeenskapswerk in Kayamandi danksy dosent Zameka Sijadu, wat toesien dat dít wat die studente in die klas leer, ook op verskillende maniere in gemeenskapsinterak-sie-inisiatiewe op en om Stellenbosch toegepas kan word. Lees ook oor hoe die kantoor van die staat se hoofregsadviseur in pasgemaakte werksessies uit die kundigheid van die Departement Afrikaans en Nederlands put sodat taalversorgers in daardie kantoor hul redigeervaardighede kan slyp.

Ons personeel se harde werk is ook vanjaar met etlike pryse bekroon. Met sy roman Lost Ground het Michiel Heyns, emeritusprofessor in Engels, onlangs 'n Sunday Times-letterkundeprys in die fiksiekategorie gewen. Dít is die tweede keer wat Heyns hierdie prys wen nadat hy dit in 2007 met Marlene van Niekerk gedeel het vir sy vertaling van haar roman Agaat. Op haar beurt het prof Lindy Heinecken van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie 'n internasionale navorsingsprys ontvang vir haar werk oor die rol van vrouesoldate in vredestigtingsinisiatiewe in Afrika, wat die belang van haar navorsing in dié verband onderstreep. Haar werk oor die uitdagings van gender-integrasie in weermagte en van vroue in naoorlogse heropbou en ontwikkeling word wêreldwyd hoog aangeslaan en word direk aangewend deur die strukture van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat met hierdie sake gemoeid is.

Jy sal LETTER vanaf 20 Desember aanlyn kan lees.

Dít is ook die laaste keer wat ek in die hoedanigheid van Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe op ons Personeelsakeblad met julle gesels. Ek bedank graag almal vir hul samewerking en toewyding oor die afgelope paar jaar, veral in die tyd wat ons groot finansiële uitdagings te bowe moes kom en ek daarop moes staatmaak dat almal hul rieme dunner sny. Ek het die uitdagings wat met so 'n diverse werksomgewing gepaardgaan, die onderlinge verdraagsaamheid te midde van uiteenlopende menings, en die vertroue wat julle in my gestel het om hierdie Fakulteit te bestuur, werklik waardeer en geniet. Ek verlaat ons Fakulteit in die gerusstellende wete dat dit in goeie hande is met prof Johan Hattingh aan die stuur, en ek wens julle almal sterkte toe met die werk wat nog voorlê.

Aan diegene wat Kersdag vier, wens ek 'n geseënde Kersfees en 'n gelukkige tyd saam met familie en vriende toe. Mag elkeen van julle 'n voorspoedige feesseisoen en 'n wonderlike nuwe jaar hê. Ek hoop 2013 oortref al julle verwagtinge.

Vriendelike groete

Hennie Kotzé


Vinnige gids vir belangrike ondersteuningsdienste

 

PROF MOUTON TOT
ASSAf RAAD VERKIES

Geluk aan prof Johann Mouton,
Direkteur: CREST en ADA, wat
onlangs tot die ASSAf Raad vanaf
2012 tot 2016 aangestel is.
Lees meer hier.


Vir toegang tot alle Fakulteitdokumentasie, besoek asseblief die Sharepoint-webwerf. Indien u nie toegang tot die Sharepoint-webwerf het nie, kontak die Fakulteitsbestuurder, mnr Pieter Janse van Rensburg, by 021 808 3848 of per e-pos.

Fakulteitspesifieke aktiwiteite word op 'n gedeelde kalender op Outlook aangedui. Kontak die Fakulteitsbestuurder, mnr Pieter Janse van Rensburg, by 021 808 3848 of per e-pos indien u 'n item op die kalender wil byvoeg of as u hulp nodig het om toegang tot die kalender te kry.

Fakulteitkomitees

Die Fakulteit het sewe komitees wat elk 'n voorsitter aan die stuur het om die verskeie aktiwiteite van die Fakulteit te bestuur.

Die komitees is:

Akademiese Aanbodkomitee 
Mnr Johan Oosthuizen 

Voorsitterskomitee 
Prof Johan Hattingh

Gemeenskapsinteraksie en
-dienskomitee
Me Pamela Kierman

Fakulteitskomitee
Prof Johan Hattingh

Bemarkings- en werwingskomitee
Mnr Gerrie Swart

Navorsingskomitee
Dr Stella Viljoen

Onderrigkomitee
Dr Mareli Pretorius

Terme en Voorwaardes(.pdf)
Alle regte voorbehou © 2012 Stellenbosch Universiteit