Gouws is professor in Afrikaanse taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands. Sy navorsing fokus primêr op die meta-leksikografie en woordeboeknavorsing. Hy het verskeie aanstellings gehad as erenavorsingsgenoot en besoekende professor aan die universiteite van Exter, Heidelberg en Aarhus. Hy is 'n redakteur van twee toonaangewende internasionale tydskrifte in die leksikografie, te wete Lexikos en Lexicographica, asook van die boekreeks Lexicographica Series Maior. Gouws is die ontvanger van verskeie beurse, pryse en toekennings vir sy navorsing. Hy is lid van verskeie navorsingsprojekte met onder meer woordeboekstrukture, leksikografiese funksies en elektroniese woordeboeke as fokusgebied. Hy vul sy werk in die teoretiese leksikografie aan met aktiewe deelname aan die leksikografiepraktyk as redakteur/mederedakteur van verskillende woordeboeke, onder meer die bekende Afrikaanse woordeboek HAT, die internasionale Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of lexicography and dictionary research en ANNA, die onlangs gepubliseerde en vernuwende woordeboek met Nederlands en Afrikaans as taalpaar.