Faculty of Arts and Social Sciences
»Tuisblad   »Personeel   »Programme   »Navorsing   »Aktiwiteite   »Nuus & Gebeure   »Nederlands    »Studente    »English

Anderstaliges by Maties leer Afrikaans met groot geesdrif aan

Sy wil mense uitnooi om te kom kyk met hoeveel geesdrif studente van alle uithoeke van die wêreld Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch aanleer.

So sê dr Elbie Adendorff, ʼn dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands wie se navorsing en werk met 0-taal Afrikaanssprekendes, die grondslag gevorm het van haar doktorale proefskrif, Kompleksiteit in taakgebaseerde onderrig en leer van Afrikaans as tweede taal binne universiteitskonteks. Adendorff het in Maart haar PhD ontvang.

Nadat sy veertien jaar in die onderwys betrokke was, het Adendorff haar tot die akademie gewend en is sy die afgelope sewe jaar al as dosent betrokke by taalverwerwing.

“My proefskrif is die eerste wat kyk na hoe taalverwerwing in ʼn universiteitsomgewing plaasvind,” sê Adendorff wat voltyds betrokke is by die onderrig van vreemde- en tweedetaalsprekende studente wat Afrikaans wil leer.

 

“Ek kyk onder meer na die kompleksiteite van hoe Afrikaans op die kampus van die Universiteit Stellenbosch onderrig en aangeleer word. Ek het in my navorsing ook gekyk na hoe belangrik dit is om ʼn behoefte-analise te doen wanneer ʼn leerplan ontwerp word. En ek kyk na die kognitiewe werkinge wat betrokke is by die aanleer van ʼn nuwe taal.”

 

Verskeie teoretiese benaderings is vir die navorsing gebruik, maar daar is veral gesteun op die taakgebaseerde benadering wat onderliggend  is tot die TEFL-stelsel (Teaching English as a Foreign Language) wat in die Ooste ontwerp en veral in China met groot welslae gebruik word om Engels te onderrig.

 

“My navorsing, oor hoe Afrikaans op universiteit aangeleer word, is ʼn nuwe studieveld in Suid-Afrika,” sê Adendorff.

 

Aanvanklik het haar akademiese pligte deels gewentel om die doseer van Afrikaans en Nederlands en was sy deels betrokke by projekte om nie-Afrikaanssprekende studente te help om Afrikaans as taal te verwerf. Die aanvraag na taalverwerwing in Afrikaans was egter so groot, dat sy nou voltyds daarby betrokke is.

 

“Studente wat die taalverwerwingsklasse bywoon, doen dit om verskeie redes. Sommige van hulle se kursusse vereis dat hulle ook in Afrikaans moet kan werk, terwyl van die studente meen hulle kan nie in Stellenbosch, met sy oorwegend Afrikaanstalige bevolking, leef en klasdraf sonder om die taal aan te leer nie.”

 

Die 0-taalsprekers is ʼn diverse groep wat uit alle uithoeke van die wêreld kom en sluit in Australiërs, Chinese, Afrikane en selfs Suid-Afrikaners wat nog nooit geleer het om Afrikaans te praat nie.

 

“Die studente stel belang in wat buite hul eie kultuurgroepe gebeur.”

 

Die kursus strek oor een jaar, maar Adendorff meen ʼn tweede jaar is nodig om werklik sekere konsepte en beginsels te konsolideer.

 

“Ons begin met basiese klankwerk en vorder na gesprekke wat op die kampus betrekking het en woordeskat wat in die omgewing gebruik word. Begrippe word in Engels verduidelik.

Studente woon weekliks drie lesings van 50 minute elk by asook twee tutoriale van 50 minute elk. Ons fokus uiteraard ook baie sterk op luister- en leesvaardighede.”

 

Die voorstander van meertaligheid glo “ hoe meer tale ʼn individu kan praat, hoe volronder is hy of sy as student.”

 

Lerui Ju, ʼn student in Juweliersontwerp, sê hy wou Afrikaans leer want hy stel belang in tale.

 

“Afrikaans klink vir my nogal baie soos Duits. Ek hoop om makliker Duits te leer sodra ek Afrikaans onder die knie het,” sê hy.

 

Vir Marco Lourenco (19), ʼn Zimbabwiese student wat Sosio-informatika aan die US studeer, is Afrikaans ʼn “mooi taal”. Hy stel ook belang in die kultuur van die mense wat die taal praat.

 

“Dit is goed dat ons nie net leer om Afrikaans te praat nie, maar ons leer ook bietjie oor die geskiedenis en die kultuur van die sprekers,” sê hy.

 

Charlotte Muteswa, ook ʼn Zimbabwiër, sê vandat sy jare gelede begin het om 7 de Laan op TV te kyk, wou sy Afrikaans leer.

“Ek hou nie van die Engelse onderskrifte nie. Ek het nog altyd gewens ek kan die Afrikaans verstaan.”

 

Sy sê dit maak sin om Afrikaans te leer want sy lewe in ʼn omgewing wat oorwegend Afrikaans is.

“Die mense om my praat deurgaans Afrikaans. Van my lesings is ook in Afrikaans en ek voel dus dis noodsaaklik om die taal te leer.”

 

 

 Dr Elbie Adendorff wys van die plakkate wat sy gebruik om 0-taalsprekers Afrikaans te leer.

 

Leksikograaf Rufus Gouws deur SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer

Hy voel maar klein as hy kyk na wie in die verlede al bekroon is met die CJ Langenhoven prys, wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken word.

Prof Rufus Gouws. (Foto: Stephanie Nieuwoudt)

“Mense soos proff Fritz Ponelis, Johan Combrink, Francois Odendal en Rudie Botha het al in die verlede die prys ontvang. Ek kan nie anders as om klein te voel nie. Maar ek is ook dankbaar,” sê prof Rufus Gouws, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands en een van die voorste woordeboekmakers en teoretiese leksikograwe in die land. Hy het die prys ontvang vir die voortreflike werk wat hy op die gebied van die taalkunde en veral die teoretiese leksikografie doen.

Hy is onder meer hoofredakteur van die HAT en een van die redakteurs van die Fachwörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung, ’n internasionale vakwoordeboek vir leksikografie maar is veral nasionaal en internasionaal bekend as metaleksikograaf.

“Dit was vir my ʼn groot verrassing toe aangekondig word ek kry die prys,” sê Gouws. “Ek het nie eers geweet ek is genomineer nie. As ek kyk na wie al voorheen die prys gewen het, voel ek maar klein. Maar ek is ook baie dankbaar. Die prys word net een keer aan ʼn individu toegeken en ʼn mens voel dankbaar as jy dit wel ontvang.”

Dan voeg hy skertsend by: “Die prys is in die verlede ook al toegeken aan mense wat op die punt was om af te tree, of reeds afgetree het. Ek sien dit egter nie as die punt aan die einde van my loopbaan nie, maar eerder as aansporing om verder te gaan.”

Gouws het sedert hy in 1980 by die Universiteit Stellenbosch begin klasgee het, die dissipline leksikografie as ’n fokuspunt van die Departement Afrikaans en Nederlands se onderrig en navorsing gevestig.

Hy verduidelik: “Leksikografie bestaan uit twee bene. Teoretiese leksikografie is wanneer die leksikograaf teorieë ontwikkel en daarvolgens modelle uitwerk vir die skep van woordeboeke wat op spesifieke gebruikers en gebruiksituasies gerig is. Praktiese leksikografie is die maak van die woordeboek. Die praktiese leksikograaf maak seker die woordeboek lyk soos die modelle wat die teoretiese leksikograaf opgestel het.”

Woordeboeke, sê hy, is vir die gewone lid van die publiek die belangrikste houer van veral taalkundige inligting. Wat in ʼn woordeboek geskryf is, word beskou as die waarheid. Dit is die vertoonvenster van die Taalkunde.

Maar een woordeboek is gewis nie gelyk aan ʼn ander woordeboek nie. “Geen enkele woordeboek kan aan almal se behoeftes voldoen nie,” sê Gouws, “Elke woordeboek is gerig op die gebruiker se bepaalde behoeftes en vaardighede. Baie mense besef nie daar is verskillende woordeboeke vir verskillende gebruikers en behoeftes nie.”

So sal ʼn algemene woordeboek wat gerig is op normale huishoudelike gebruik waar die gesinslede elke nou en dan ʼn woord se betekenis wil naslaan, heeltemal anders lyk as vakwoordeboeke wat spesifiek gemik is op mense in bepaalde spesialisvelde soos onder meer dokters, ingenieurs en leksikograwe. ʼn Grondslagfase-woordeboek sal, wat sy inhoud en aanbieding betref, verskil van woordeboeke vir ander fases in skoolonderrig.

Daar is ook opwindende dinge aan die gebeur wat betref die ontwerp van modelle vir die skep van aanlynwoordeboeke.

“Die internet gee vir die leksikograaf ʼn heel ander greep op woordeboeke,” sê Gouws. “As ʼn mens die inhoud van ʼn gedrukte woordeboek net so op die internet gaan plaas, gaan dit nie veel waarde toevoeg nie. Aanlynwoordeboeke stel die gebruiker in staat om dit volgens sy eie profiel en behoeftes te gebruik. Die gebruiker kan aandui watter soort inligting hy/sy op watter kundigheids- en taalvlak wil hê en daardie spesifieke inligting aan een gemeenskaplike databasis onttrek. So is daar byvoorbeeld mense wat net die betekenis van ʼn woord wil opsoek, ander wil ook grammatiese en etimologiese inligting hê of weet hoe om die woord in bepaalde situasies te gebruik. Vanuit een databasis kan elke gebruiker inligting onttrek wat uitsluitlik op sy/haar behoeftes gerig is.”

Sal die elektroniese woordeboek die gedrukte woordeboek vervang?

“Mense sal al minder van die gedrukte woordeboek gebruik maak, maar daar sal altyd ʼn behoefte aan die soort woordeboek wees – veral in gebruiksituasies waar toegang tot elektroniese woordeboeke nie moontlik is nie.” – STEPHANIE NIEUWOUDT

 

 


 

82-jarige verwerf MPhil-graad in troeteltaal

Om ryp in jare te wees, hoef nie te beteken jou breinselle staan stil nie.

Dít kan ’n mens sê van die oudste graadkandidaat wat vanjaar met die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid haar MPhil in leksikografie verwerf het.

Me. Gerda Simpson (82) het vertel sy het op die ouderdom van 78 afgetree as ontvangsdame in haar seun, dr. André Simpson, se mediese praktyk in Groenpunt.

Simpson was oor die jare ­onder meer onderwyseres, het matriekantwoordstelle nagesien, was betrokke by die ­destydse departement vir nasionale opvoeding en het kultuurprogramme aangebied  inderdaad nie iemand wat, al het sy afgetree, heeldag lank net kan stilsit nie.

Haar graad in leksikografie het sy onder die beskermende vlerk van prof. Rufus Gouws van die departement Afrikaans en Nederlands aangepak.

Dr. Simpson het van Gouws se ondersteuning aan sy ma gesê: As daar 'n medalje gegee moet word vir iemand wat hulpvaardig en geduldig is, is dit prof. Gouws.

Boonop het die veld van leksikografie in 1946 nie eens bestaan nie. My ma moes die hele dissipline van voor af leer, het Simpson trots vertel.

Die bejaarde gegradueerde wou met die verwerwing van haar graad bewys ouderdom beteken niks nie. Dis nie nodig dat jy gaan sit en doodgaan as jy oud is nie.

Ek het besef ek moet my kop besig hou, het sy gesê, skouers breed onder die gradetoga met drie verskillende bande daaroor gedrapeer.

Haar verhandeling, getiteld 'n Taalkundige en leksikografiese perspektief op troeteltaal in Afrikaans, het haar na verskeie ­hoër- en laerskole in veral plattelandse gebiede laat uitreik.

'n Vraelys oor wat hulle onder troeteltaal verstaan en of hulle troeteling van hul ouers ervaar, het haar tot verrassende gevolgtrekkings laat kom.

Min kinders het enige benul gehad van wat die woord troetel beteken. Boonop kon hulle skaars 'n woordeboek gebruik om die betekenis van die woord op te soek! En van troeteling in die meeste huise is daar min sprake.”

Met die MPhil in leksikografie het Simpson 'n sirkel voltooi. Sy het jare gelede as sewentienjarige haar BA-graad aan die US verwerf.

En nou, 65 jaar later, het sy bewys om verder te studeer, hoef nie net die bloedjonges beskore te wees nie.

Krige, Ilse. 2012. Vrou (82) hou kop besig en kry graad. Die Burger, 30 Maart.

 

 

Kollegas bring hulde aan JC Kannemeyer

Die Departement Afrikaans en Nederlands het Donderdag (1 Maart) hulde gebring aan 'n kollega wat hulle as 'n literator van formaat en 'n  gesaghebbende figuur geken het.

Die vermaarde biograaf en literator John C Kannemeyer, wat op Kersdag verlede jaar oorlede is, was buitengewone professor in die Departement Afrikaans en Nederlands.

Kannemeyer se lewensmaat, 'n vriendin en van sy kollegas en studente het oor die etensuur hul herinneringe aan hom gedeel.

Prof Louise Viljoen het die geleentheid geopen met 'n oorsig van Kannemeyer se lewe en gesê hy is in 1939 op Robertson gebore en het sy studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi. Hy was 'n dosent aan die US, asook aan die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand. Uit sy pen het talle publikasies gekom oor die lewens van van die grootste figure in die Afrikaanse letterkunde, waaronder DJ Opperman, Jan Rabie en C Louis Leipoldt. Kort voor sy afsterwe het hy die laaste deel van sy biografie oor JM Coetzee aan sy uitgewer gestuur.

Benewens talle pryse, waaronder van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het Kannemeyer ook 'n eredoktorsgraad van sy alma mater ontvang.

Me Santa Hofmeyr-Joubert, Kannemeyer se lewensmaat, het sy kollegas in die Departement en dié van die JS Gericke Biblioteek se Dokumentesentrum bedank vir wat hulle vir hom beteken het. “Dit was vir hom 'n groot erkenning dat hy as buitengewone professor in die Departement aangestel was. Hy het baie uitgesien na die Vrydagoggend-klasse saam met sy studente.”

Prof Ronel Foster het 'n staaltjie vertel van hoe hy haar tydens 'n besoek aan Amsterdam na haar gunsteling-digter, Elisabeth Eybers, se huis geneem het. “Ek sal hom altyd onthou as 'n literator van formaat.”

In haar huldeblyk het prof Dorothea van Zyl oor die hegte band tussen Kannemeyer en haar man, prof Wium van Zyl van die Universiteit van Wes-Kaapland, gesels en spottenderwys na Kannemeyer as die derde persoon in my huwelik verwys.

(Vir Wium) het John altyd eerste gekom. Hy was 'n gesaghebbende figuur. Hy het nie 'n grafsteen nodig nie; sy boeke is sy grafsteen.”

Mes Marina Brink en Lynne Fourie van die Dokumentesentrum het vertel hoe Kannemeyer amper daagliks daar navorsing kom doen het in die skrywersversamelings.

Twee van Kannemeyer se studente, me Shané Kleyn en mnr Stephan Meyer, het vertel van die gesellige mensen bron van interessante inligting by wie hulle Vrydagoggende klas gehad het.

As afsluiting het prof Marlene van Niekerk 'n gedig voorgelees wat sy oor Kannemeyer geskryf het. “Hy was juis die een wat my as 20-jarige aangemoedig het om gedigte te skryf.”

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe: webblad

BEURSFUNKSIE 2012

Die jaarlikse beursfunksie van die Departement Afrikaans en Nederlands is op 15 Februarie 2012 by Aan de Braak-teater in Stellenbosch gehou. Tydens die geleentheid is alle studente (Afrikaans & Nederlands, Vertaling/Redigering en die Kortkursusprogram) wat in 2011 pryse en beurse ontvang het, vereer. Lize Beekman het as gaskunstenaar opgetree en Johan Botha van Folio Vertaaldienste as gasspreker.

 

                        Beursfunksie 2012 Beursfunksie 2012

Willem Anker wen grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk

Die romansier en dramaturg, dr Willem Anker, wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Afrikaans en Nederlands verbonde is, het vandeesweek die grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk losgeslaan.

Dr Anker het Dinsdag, 13 Desember die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skryfbeurs van R350 000 ontvang. Die beurs word deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geadministreer, en stel die ontvanger in staat om 'n sabbatsverlof te neem om op sy/haar skryfwerk te fokus en 'n boek te voltooi.

Die beursgeld kom uit 'n bemaking van die Afrikaanse skrywer Jan Rabie en sy Skotse skilder-vrou, Marjorie Wallace. Dit word tweejaarliks toegeken, en dr Anker is die tweede ontvanger daarvan. In 2009 het die bekroonde skrywer André P Brink die beurs ontvang.

Die skrywers Abraham H de Vries en Elias P Nel, asook prof Steward van Wyk, voorsitter van UWK se Departement Afrikaans en Nederlands, het die beurskomitee gevorm.

Dr Anker beplan om 'n boek te skryf oor die rebel Coenraad de Buys, wat deur sommige as 'n held beskou en deur ander as 'n dief en poligamis afgemaak word. De Buys is in 1761 gebore en het in 1821 in Mosambiek verdwyn. Sy oorskot is nooit gevind nie.

Dr Anker, wat in Citrusdal gebore is en op Wellington gematrikuleer het, het sy debuutroman, Siegfried, in 2007 gepubliseer. Dié boek het in 2008 die Universiteit van Johannesburg se prys vir debuutwerke gewen, en in dieselfde jaar die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende literatuur.

Sy drama Slaghuis het die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater gewen, en sy vertaling van die Brit Sarah Kane se Crave as Smag is landwyd op kunstefeeste opgevoer.

Prof Van Wyk het aan Die Burger gesê dr Anker se beoogde boek sal verruiming bring in die Afrikaanse letterkunde.

Kollolkwium-gedigte gepubliseer

Tydens die departementele kollokwium in September 2010 het digters hulle herdigtings van Allen Ginsberg se "America" voorgelees. Die aand is genoem "Briewe aan Suid-Afrika". 'n Keur uit die aand se voorlesings, met Engelse vertalings, sowel as bydraes deur Suid-Afrikaanse digters wat in ander tale skryf, is gebundel en het pas by Umuzi verskyn.

Vier van die Departement se personeellede se gedigte is ingesluit: Willem Anker, Melt Myburgh, Marius Swart en Marlene van Niekerk.

skakel


 
 
Terme en Voorwaardes(.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2009 Stellenbosch Universiteit