English

Tuisblad    Voorgraadse studie    Nagraadse studie    Personeel    Hulpbronne    Nuus & werksaamhede    Navorsing    Visuele argief

 


Meer oor ons
Visie en missie
Hoekom 'n graad in Visuele Kunste?
Taal
Toelating en vereistes
Kontakpersone


Visuele Kunste
Privaat Sak X1
Matieland 7602

Visuele Kunste-gebou
Victoriastraat
Stellenbosch
Tel: 27 (0)21 808 3052
Faks: 27 (0)21 808 3044

 

Portefeuljevereistes
Biblioteek
Internasionale Kantoor

Meer oor ons

Die Stellenbosch-omgewing bied studente in Visuele Kunste ʼn unieke geleentheid: Die intimiteit en ondersteuning van ʼn historiese universiteitsdorp is net 45 minute se ry van die internasionale, kosmopolitaanse en kultureel uiteenlopende omgewing van die Kaapse middestad.

Die Departement Visuele Kunste is geleë in die skadu van die eike, in ʼn historiese, volledig opgeknapte gebou in Victoriastraat. Die Departement, wat in 2005 ʼn gedaanteverwisseling ondergaan het, bied pasgemaakte ateljee- en werkwinkelruimtes vir studente in Skone Kunste, Visuele Kommunikasieontwerp én Juweelontwerp, sowel as ʼn nuwe mediarekenaarlaboratorium van bedryfstandaard. In ooreenstemming met ontwikkelings in kontemporêre kuns en ontwerp, is die Departement se etos multidissiplinêr, en word studente in alle aspekte van nuwe media ondersteun, wat video- en digitale kunsvorme insluit, terwyl hulle ook deeglik in tradisionele visuele en toegepaste kunspraktyke onderlê word.

Buiten die kundigheid van voltydse personeellede, word studente boonop deurlopend aan beroepslui in die bedryf blootgestel, hetsy deur gaskunstenaars en -spesialiste in die Departement, of op uitstappies na belangrike uitstallings, geleenthede of bedryfskoue.

Oor al die studierigtings heen word die produksie en kritiese beoordeling van visuele kultuur beklemtoon, veranker in die behoefte om alle aspekte van kontemporêre Suid-Afrikaanse kultuur in ag te neem en te weerspieël.

Die Departement bied ook nagraadse studie in Visuele Kunste, Illustrasie, Visuele Studie en Kunsonderrig aan.

terug na bo

Visie en missie
Ons visie is om, as ʼn toonaangewende sentrum van uitnemendheid, na ʼn eiesoortige en skeppende raakvlak tussen kuns en ontwerp te streef, wat ʼn beduidende bydrae tot die skep van kennis in kontemporêre visuele kultuur, sowel nasionaal as internasionaal, kan lewer.

Dít wil ons graag bereik deur met behulp van teoretiese en skeppende ondersoek selfontdekking aan te moedig. Deur ʼn geïntegreerde benadering tot onderrig, navorsing en gemeenskapskakeling, wil ons selfbesinning, en toewyding aan en respek vir die diversiteit van die Suid-Afrikaanse kultuur by studente inskerp.

terug na bo

Hoekom 'n graad in Visuele Kunste?
Die graad BA in Visuele Kunste bied die kern- tegniese en konseptuele vaardighede vir ʼn loopbaan as kunstenaar, ontwerper, kunsopvoeder en -onderwyser, kurator, of kunskritikus en -historikus. Hierdie vaardighede is uiters gesog in die groter skeppende bedrywe, soos filmproduksie, kunsadministrasie, museum- en erfeniswerk, uitgewery en joernalistiek, argitektuur en binnenshuise ontwerp, die ontwerp- en reklamebedryf, juweelvervaardiging, ensovoorts.

Die algemene vooropgesette mening dat die graad BA (Visuele Kunste) nie loopbaangerig is nie, word weerlê deur die sukses van afgestudeerdes van die Departement, wat toon dat hulle ʼn uiters aantreklike stel vaardighede aan werkgewers bied. ʼn Gegradueerde in BA (Visuele Kunste) is van nature vernuwend en inskiklik, en is uitgeknip vir entrepreneurswerk.

terug na bo

Taal
Die Departement onderskryf die tweetalige (Afrikaans en Engels) taalmodel. Studente en personeel kan praat en skryf in watter een van dié twee tale hulle ook al die gemaklikste en vrymoedigste voel.

Kursusinligting word sover moontlik in sowel Engels as Afrikaans voorsien. Alles moontlik word gedoen om te verseker dat kommunikasie ʼn oop en onbevooroordeelde proses bly, wat begrip in die onderrig-, leer- en navorsingsomgewing van die Departement verbeter.

terug na bo

Toelating en vereistes
Hoewel voornemende studente in BA (Visuele Kunste) nie Kuns op skoolvlak hoef te geneem het nie, moet hulle oor volle matrikulasievrystelling beskik en deur ʼn deeglike keuringsproses gaan.

Vir inskrywing vir die program, moet voornemende studente ʼn portefeulje indien op grond van bepaalde vereistes vir elk van die drie studierigtings.

Vir inligting oor die portefeuljevereistes, skakel met:
Annatjie Moolman | 27 (0)21 808 2508 | amm@sun.ac.za
Skryf as alternatief gerus ook aan:
Aansoeke | Universiteit Stellenbosch | Privaat Sak X1 | Matieland | 7602

terug na bo

Kontakpersone
Departementele Voorsitter | Prof Keith Dietrich | 021 808 3046 | kd2@sun.ac.za
Departementele Sekretaresse | Ms Yumna Williams | 021 808 3052 | yumna@sun.ac.za
Eerstejaarstudie | Elizabeth Gunter | 021 808 3213 | eg@sun.ac.za |
Skone Kunste | Kathryn Smith | 021 808 2082 | kathryns@sun.ac.za
Juweelontwerp | Carine Terreblanche | 021 808 3047 | ct@sun.ac.za
Visuele Kommunikasieontwerp | Marthie Kaden | 021 808 3593| mjkaden@sun.ac.za
Nagraadse studie | Hentie van der Merwe | 021 808 2824 | hentie@sun.ac.za

terug na bo

 
Terme en Voorwaardes(.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2009 Stellenbosch Universiteit