Paul Cilliers
In die een lewe wat mens op hierdie aarde gegun word, is jy bevoorreg as jy iemand ontmoet wat jy beste vriend en sielsgenoot kan noem, iemand met wie jy alles kan deel, iemand wat jou in jou diepste wese verstaan en waardeer. Friedrich Paul Cilliers was dit vir my oor die beste van drie dekades. Hy het gesê, en in Engels werk dit beter, "you are relationally constituted through other people" — 'n diep insig uit sy verstaan van kompleksiteit. Nou is hy weg en ek voel 'n belangrike deel van my eie self het daardeur onherroeplik verdwyn.
So weet ek dat baie van julle vandag ook so voel. Vriende, kollegas, familie, studente. Ek wil so graag namens almal van julle sê wat Paul vir ons beteken het, maar ek vind dit haas onmoontlik. Elkeen van ons moet dit maar self met tyd uitwerk, wanneer ons meer afstand het. Die beste wat ek kan doen is om in 'n paar woorde te probeer om uit my eie ervaring die essensie van Paul en Paul se lewe vas te vang. Hoe doen mens dit egter? Waar begin mens om vas te vang iemand wat Hendrik Geyer in sy STIAS huldiging aan Paul noem 'n eenman multidissiplinere, en ek wil byvoeg, 'n eenman multikulturele span.
Twee woorde kom by my op: Kwaliteit en nederigheid. Wat Paul vir ons gewys het is hoe om in alle sfere van lewe kwaliteit na te streef, maar dan op 'n nederige manier. In sy professorale intrerede het hy sy lewensuitkyk sterk en onomwonde gestel: 'n nederige posisie is nie swak nie. Net uit 'n nederige posisie is kwaliteit moontlik. Dit was Paul en dit het hy van oomblik tot oomblik uitgeleef. Sukki, my vrou, het dit gisteraand in vyf woorde opgesom: "Paul embodied the modest position".
Baie van julle het seker sy wonderlike brief aan John Stuart Mill in sy onlangse By-rubriek gelees waar hy verduidelik hoe mens 'n eier moet eet. Nou moet ek dadelik sê dat ek nie my eier so eet nie, ek verkies dit anders. Maar dis natuurlik nie Paul se punt nie. Hy wou nie hê dat ons 'n eier soos hy moet geniet nie. Hy wou hê dat mens die eet van 'n eier, op hoe 'n manier ookal, 'n kwaliteit geleentheid moet maak. En so het hy met elke oomblik in sy lewe probeer maak. En so het hy almal rondom hom se lewe kwaliteit gegee. Dit is vir my die essensie van Paul se nalatenskap.
Ek het in die afgelope drie dae 'n magdom boodskappe ontvang waar vriende hulle ervaring van Paul beskryf. Ek wil deur hulle woorde iets hiervan weergee.
Harry Kunneman, Paul se kollega by die Universiteit van Humanistiek in Utrecht skryf:
"Het is onvoorstelbaar dat Paul niet meer bij ons is. Hoe moeten wij verder zonder zijn grote hart, zijn briljante geest en zijn standvastige betrokkenheid op een rechtvaardige wereld? Paul Cilliers was een groot geleerde, een groot denker en een groot humanist. Hij heeft nieuwe verbindingen tot stand gebracht tussen de complexiteitstheorie, de kritische maatschappijtheorie en de ethiek, die een baanbrekende betekenis hebben voor het hedendaagse denken. De Universiteit voor Humanistiek verliest in hem een hoog gewaardeerde en zeer geliefde Distinguished Visiting Professor. Persoonlijk verlies ik een van mijn beste vrienden, met wie ik onvergetelijke gesprekken heb mogen voeren over het leven, de liefde, het mysterie van goede wijn en de dood. In gedachten ben ik bij Sandra, Ilana en Cornel en hun verdriet. Ik zal de herinnering aan Paul altijd bij me dragen en proberen zijn werk voort te zetten."
My en Paul se steunpilaar in ons Sentrum, Rika Preiser, skryf in haar huldeblyk vir LitNet hoe Paul vir verskillende mense verskillende dinge beteken het:
" Vir kos- en wynliefhebbers was Paul die soort persoon wat jy kon vertrou indien hy ‘n restourant of lekker bottel wyn sou voorstel vanweë die feit dat hy self ‘n bobaas kok en fynproewer was en nie slegte diens in ‘n restourant geduld het nie. (Die van julle wat die ervaring gehad het om saam met Paul uit te eet sal weet waarvan Rika praat!) Weë die kok wat dit sou waag om die steak “done” in plaas van “rare” voor te sit... mens kon maar weet dat die restourantbestuurder die volgende dag daarvan in kennis gestel sou word in vriendelike dog ferm woorde. Maar ten spyte van sy liefde vir lekker-eet en kook, was Paul tog geen “foodie” nie. Hy kon van ‘n grondboontjiebotter toebroodjie net so sweem asof dit ‘n drie-ster Michelin maaltyd was."
Lou-Marie Kruger stuur vir my laatnag reels uit twee gedigte van die Poolse digteres Wisława Szymborska. Een oor die skok van sterflikheid en die ander in haar woorde "die wonderlike sekerheid van ‘n sekere soort onsterflikheid".
Die eerste uit “Cat in an empty apartment”
“Something doesn't start
at its usual time.
Something doesn't happen
as it should.
Someone was always, always here,
then suddenly disappeared
and stubbornly stays disappeared.”
Dan uit “On Death, Without Exaggeration”, ‘n aantyging teen die dood en hoe die dood op die ou end minderwaardig is aan iemand so onsterflik soos Paul:
"Whoever claims that it (death) is omnipotent
is himself living proof
that it's not.
There's no life
that couldn't be immortal
if only for a moment.
Death
always arrives by that very moment too late.
In vain it tugs at the knob
of the invisible door.
As far as you've come
can't be undone.”
Maar uiteindelik, om die perfekte beskrywing van Paul te vind, moet mens gaan soek op Discworld, diep in die stroopmyne van Ankh-Morpork waar die volgende woorde 500,000 jaar gelede deur die Trolle uitgekerf is:
"Him who mountain crush him no
Him who sun him stop him no
Him who hammer him break him no
Him who fire him fear him no
Him who raise him head above him heart
Him diamond"