Gouws in Kommissie vir Geslagsgelykheid aangestel, wen internasionale toekenning
Prof Amanda Gouws (foto) van die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch is een van die nege kommissarisse wat president Jacob Zuma onlangs in die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) aangestel het. Kwalik 'n maand ná die aanstelling het dié hoogleraar, wat haar op genderpolitiek, Suid-Afrikaanse politiek en politiese gedrag toespits, nóg 'n prestasie om te vier.
By die 22ste Wêreldkongres vir Politieke Wetenskap van die Internasionale Vereniging vir Politieke Wetenskap (IPSA) het sy die Wilma Rule-toekenning vir die beste referaat in die kategorie "Gender en Politiek" gewen. Die kongres het van 6 tot 12 Julie in Madrid, Spanje, plaasgevind en prof Gouws se wenreferaat het gehandel oor multikulturalisme in Suid-Afrika en die oënskynlike teenstelling tussen universele menseregte en kultuur/tradisie.
Die prys word sedert 2000 toegeken om navorsing op die gebied van gender en politiek aan te moedig. Dit heet na Wilma Rule wat, soos prof Gouws, 'n graad met Joernalistiek as een van haar hoofvakke verwerf het voordat sy haar akademiese loopbaan in Politieke Wetenskap begin het. Volgens die IPSA-webtuiste het Rule se "studie van gender en politiek aanleiding gegee tot lewenslange navorsing oor kiesstelsels, en hoe dit die verkiesing van vroue en onderverteenwoordigde minderhede tot openbare ampte fasiliteer of verhinder". Sy was "'n toonaangewende skrywer en Politieke Wetenskap-navorser wie se werk uitgeloop het op 'n aantal artikels en boeke wat konvensionele idees oor die redes vir die gebrek aan politieke verteenwoordiging deur vroue in Amerika bevraagteken".
Gouws sê dit is 'n reuse voorreg om die prys te kon ontvang.
"Ek was sprakeloos, want ek het dit glad nie verwag nie. Tog is dit 'n groot eer. In sekere sin is dit ook 'n eer vir Suid-Afrika, want hierdie referaat konsentreer op die probleme van 'n ontwikkelende land. Dit is 'n pluimpie vir ons dat 'n organisasie soos IPSA die politieke uitdagings van 'n ontwikkelende land erken."
Skaars 'n maand gelede was Gouws se aandag nie soseer by die referaat wat sy in Madrid moes aanbied nie, maar eerder by haar aanstelling in die KGG. Volgens Gouws is "'n uitstekende groep kommissarisse is aangestel, met die vermoë om toe te sien dat die Kommissie op 'n veel hoër vlak en veel sigbaarder as voorheen funksioneer".
"Ek is opgewonde om saam te werk met my medekommissarisse, wat almal bewus is van die erns van geslagsdiskriminasie in Suid-Afrika, en wat besef dat heelwat van die oplossings wat in die verlede aanbeveel is, nie werk nie en dat dit nou tyd is om na nuwe oplossings te soek."
Sy sê sy hoop om die openbare profiel van die Kommissie gedurende haar ampstermyn te verhoog en te verbeter.
"Ek hoop dat ons nou meer gereeld met die publiek sal begin kommunikeer en dat ons werklik erns sal maak met ons toesigfunksie oor die regering deur dop te hou watter impak wette op geslagskwessies het. Ek vertrou ook dat waar diskriminasie wel plaasvind, ons die ondersoekfunksie van die Kommissie sal aanwend om na oplossings te soek," sê Gouws.