|
Oorsig
Die Departement Logistiek is in 1960 gestig. Dit is die enigste departement aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit waar logistieke aspekte volledig vanuit een departement aangebied word. Die departement se vakke kan in verskeie BComm en BSc programme gevolg word.
In die omgangstaal verwys logistiek gewoonlik na die poging om 'n ingewikkelde of problematiese gebeurtenis vlot te laat verloop. In 'n bedryfskonteks verwys dit na die proses om grondstowwe vanaf hul oorsprong te verplaas, die omvorming daarvan te ondersteun, en die voltooide produkte op die aangewese plek en tyd teen aanvaarbare koste vir verbruik beskikbaar te stel. Aangesien logistiek waarde toevoeg deur die mees winsgewende aanwending van beskikbare middele, verskaf logistieke bekwaamheid 'n mededingende voorsprong aan persone en ondernemings.
Die departement se vier hoofvakke begin almal op tweedejaarsvlak. Die vakke is Logistieke Bestuur, Kwantitatiewe Bestuur, Operasionele Navorsing en Vervoerekonomie.
|
 |