Die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg is toegewyd tot verantwoordbare en hoëgraadse pasiëntsorg deur te steun op bekende wetenskaplike beginsels en deurlopende navorsing. Die departement plaas 'n hoë premie op die ontwikkeling van verantwoordbare denke en ondersoekende gedagtes op beide voor- en nagraadse vlak.
Die departement het 'n noue betrokkenheid by die totale teater opset by Tygerberghospitaal in terme van perioperatiewe pasiëntesorg. Dit strek oor die hele spektrum van chirurgiese dissiplines. Die departement het verder 'n gevestigde baanrekord en intensiewe betrokkenheid by die Chirurgiese Intensiewe sorg by Tygerberghospitaal, sowel as 'n formele akademiese program en navorsing in Kritieke Sorg.
Die program vir voorgraadse studente, soos vervat in die kurrikulum, sluit onder andere in die bloklesings aan die MBChB IV studente, sowel as die kliniese rotasie van die MBChB V. Laasgenoemde behels rotasie deur die vaardigheid laboratorium, herstelkamer, intensiewe sorg en teater. Die totale voorgraadse blootstelling behels 6 weke.
Nagraadse akademiese opleiding geskied in die kliniese omgewing maar geformaliseerde akademiese geleenthede vir die junior studente in Fisiologie, Fisika en Farmakologie word op Maandagnamiddae gehou, en senior MMed studente het seminaar geleenthede op Vrydagnamiddae. Die departement het 'n formele akademiese program op Woensdagnamiddae.
MMed studente doen, soos die Universiteit vereis, 'n MMed skripsie en 'n reeks van onderwerpe is reeds ondersoek en gepubliseer.
Op hoër nagraadse vlak het die departement 'n unieke rekord in die afhandeling van doktorsgrade.
Die spesiale areas van belangstelling in navorsing sluit die volgende in:
Hartfunksie:
Meganiese funksie
Ventrikulêre elastansie
Diastoliese disfunksie
Reperfusie besering
Stamsel inplantering
Respiratoriese funksie:
Volwasse respiratoriese noodsindroom
Akute pulmonêre hipertensie en regter ventrikulêre funksie
Narkose wat een long prosedures vereis
Farmakokinetika:
Modulering
Total intraveneuse middel toediening
Fisika:
Toegepaste anestesiologie
Asemhaling stroombane
Gasvloei kinetika
Die departement bedryf 'n grootdier laboratorium wat toegerus is om gesofistikeerde studies van hart- en longfunksie te doen. Die Wellcome Trust het in die onlangse verlede R750,000 belê in nuwe apparaat vir die laboratorium.
Die spesiale kombinasie van kliniese- en grootdier navorsing en die opsie tot kleindier navorsing, stel die departement in staat om deel te neem aan die wetenskaplik ontwikkelende wêreld van Anestesiologie en Kritieke Sorg.