FAIMER EN SAFRI
Prof Ben van Heerden, die direkteur van die FGW se Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO) is in 2006 gekeur as 'n genoot van die Foundation for the Advancement of International Medical Education and Research (FAIMER) se 2006-instituut.
Hy is een van 'n uitgelese groep van wetenskaplikes wat hierdie toekenning jaarliks ontvang. Hy is gekeur op, onder meer, die gehalte van sy projekvoorstel - Identifying predictors for successful study in a revised medical curriculum. Dit beteken dat die Universiteit Stellenbosch nou met vier genote spog. Vorige FAIMER-genote uit die Fakulteit was profs Elizabeth Wasserman en Juanita Bezuidenhout en dr Francois Cilliers.
FAIMER is 'n nie-winsgewende stigting wat in 2000 deur die Educational Commission for Foreign Medical Graduates (ECFMG®) in die lewe geroep is. Hierdeur het die ECFMG hulpbronne bewillig om programme en navorsing wat mediese onderrig en gesondheidsorg wêreldwyd verbeter, te ondersteun.
FAIMER stel sigself ten doel om die kwaliteit van onderrig in die Gesondheidswetenskappe in veral die ontwikkelende wêreld te bevorder, o.a. deur hoëvlaknavorsing op die gebied. Aangesien die SGBO, met sy sterk akademiese fokus, dieselfde doewitte nastreef, is dit vir ons van onskatbare waarde om oor 'n kritiese massa van FAIMER-genote te beskik om die kundigheidsbasis van die SGBO te verstewig.
Vanweë die groot belangstelling in die gesogte FAIMER program en behoefte aan addisionele kapasiteit het FAIMER onlangs besluit om streeksinstitute in die res van die wêreld te ontwikkel. Hierdie institute bied 'n soortgelyke genootskap aan, wat pasgemaak is vir daardie streek se behoeftes. So 'n streeksinstituut vir Suider-Afrika (Southern African FAIMER Regional Institute: SAFRI) word in 2008 geloods.
Kliek hieronder vir meer besonderhede:
FAIMER: Regional Initiatives
FAIMER: Southern Africa (SAFRI)
Indien u belangstel om aansoek te doen vir SAFRI: Kliek hier