Welcome PUBLIC








Christo Grobler, Brussel, België, skryf
Ek doen evangelisasiewerk in België. Ek was van 1991 tot 1996 op Maties (Helderberg) waar ek teologie geswot het.
Ek het belang gestel in sendingwerk, en was gereeld op uitreike saam met Studentekerk. België was egter vir my 'n misterie, maar die land het my soos 'n magneet aangetrek!
Ek het in 1997 België toe gekom waar ek vir 'n jaar saam met ABC en die BEZ gewerk het. Die jaar was 'n bevestiging dat ek in België moes bly en is nou al tien jaar hier. Praat al Vlaams en Frans (bietjie minder).
Waarom België? Min mense besef dat ons Protestantse geloof eintlik sy oorsprong in België en Nederland het en dat die mense na SA gevlug het, maar toe het België nog nie bekend gestaan as België nie. Dus is dit 'n soort erfskuld wat ek wil "terugbetaal” omdat die mense hier nie geïnteresseerd is in die Bybel nie, en tot 1964 met die 2de Vatikaanse Konsilie nie die Bybel in hul huise mag gehad het nie.
Ook ons Afrikaanse taal het sterk bande met Vlaandere (provinsie in België, en meer spesifiek Wes-Vlaandere). Dus genoeg redes om hier te wees.
Ek is intussen getroud met Annick, 'n Suid-Afrikaanse Belg en het 2 seuns, Marnus en Enco.
Ons taak is veral om mense bewus te maak van die Bybel en dat God van hulle hou en dat Hy hulle wil help.
België is 'n pragtige, kultureel sterk land met baie geskiedenis, ou geboue, die Europese parlement in Brussel, die NAVO hoofkantore en baie van die wêreld se groter maatskappye het hul Europese hoofkantore hier.
België het 3 landstale: Nederlands, Frans en Duits met Engels wat daarby kom. Ek werk in die Nederlandstalige gedeelte op vrywillige basis. Dus ek word nie betaal of ondersteun deur mense nie, maar werk self in Brussel as Dataverwerker. So kan ek ook dan met my kollegas oor God en die Bybel praat. Meestal begin hulle daaroor en ek antwoord.
Kontak gerus die ABC by e-pos abc.rv@fontainebleau.ws vir meer inligting.
•    Stuur vir Christo e-pos by c.grobler@scarlet.be
Mev M Theron, Port Elizabeth, skryf:
Graag wil ek my waardering uitspreek ten opsigte van die insiggewende tydskrif, Matieland. Wat wel skokkend is, is dat heel op die voorblad van Natalia gepraat word as ‘n "performer'.  Waarom nie ‘presteerder' nie? Is die Stellenbosch Universiteit dan nie juis daar om vir die behoud van ons Afrikaanse taal op te tree nie? Dis vir my totaal onverklaarbaar en onaanvaarbaar. Verduidelik asseblief.
(In retrospek kon daar moontlik 'n alternatief gebruik word. Die woord "performer” het met die skryf van die artikel 'n beter beskrywende woord geblyk te wees om die vele talente en suksesse van Natalia da Rocha te versinnebeeld. Behalwe vir u voorstel van "presteerder doem "verhoogkunstenaar” ook op, maar beide sou moeilik Natalia se beroep én karakter weergee. Hoe dit ook al sy, Matieland onderneem opnuut om te alle tye Afrikaanse alternatiewe te oorweeg. Enige ander voorstelle vir " performer” van MatiesAlumni? Red.)
Cornelis de Jager, Hermanus:
Prof Leon de Stadler verwys op die brieweblad (Matieland 2006:2) na Afrikaans as ‘n kleiner plaaslike taal. Is die "plaaslike taal” van Stellenbosch en omgewing nie Afrikaans nie? En as 20 universiteite in Suid-Afrika "onbeskaamd” eentalig Engels is, is die getjank oor Afrikaans aan die US glad nie meer amusant nie.
Maar as die groot geeste wat "weet” praat, moet ons minderes seker maar swyg. Maar nou het ek al gewaar dat "professionals” katastrofaal kan mistas. Spasie ontbreek om my stelling te bewys. Mag ek net een voorbeeld noem? Was dit nie die amateur, Noag, wat die ark se spykers ingehamer het nie? En was dit nie "professionals” wat die Titanic gebou het nie?
Beskeidenheid is ‘n mooi karaktertrek, maar misplaaste beskeidenheid, en ‘n minderwaardigheidskompleks?  Afrikaans is nie sommer so ‘n ou taaltjie nie. Afrikaans word doseer aan die Universiteit van Moskou, en aan vyf Amerikaanse universiteite.
Toe Farwa Mentoor met verlede jaar se comrades die eerste SA vrou oor die wenstreep was, het sy die Engelstalige joernalis se vrae in suiwer Afrikaans beantwoord. Is dit nou nie pragtig nie? Toe dieselfde joernalis hierna ‘n Russiese holler onder hande neem, was die Rus so beïndruk met Mentoor se Afrikaans dat hy toe ook sommer die Engelstalige joernalis in Afrikaans beantwoord – ‘n mens mag mos soms jou ingehokte verbeelding vrye teuels gee.
Een van die wêreld se grootste denkers, CJ Langenhoven, sê: minag jou eie, en staan verstom dat die vreemdes nie oormekaar val om jou te vertel hoe oulik jy is nie.
Rev Mapunda Ngwira, Blantyre, Malawi:
Thank you for continued contact with the university through the Alumnus and Matieland magazine. There was a request for feedback from those of us that do not have sufficient knowledge of Afrikaans – I feel with the current increased use of electronic communication, an electronic English version of Matieland and even Alumnus would be greatly helpful. There is so much happening at the University and to past students which catch my attention, but the language barrier causes us to miss out on current events. Please consider both options for electronic versions (accessible by email and on website), and also continue sending hard copies to those that are not on your email list. I value what the University has done in my life.

CSA Coetzee, Bloemfontein:
Al is ek nie 'n Matie of 'n Oud-Matie nie, geniet ek die leesstof in Matieland wat ek by vriende onder oë kry terdeë. Ons Afrikaanse sangers staan deesdae so hoog aangeskryf, dat ek nie kan help om te wonder waarom julle nie erkenning aan jul eie toppresteerder op hierdie gebied gee nie.  Natuurlik verwys ek na die een en enigste Theuns Jordaan wat gehore so bekoor met sy fenomenale diep basstem. Nie Steve, Kurt, Dozi, Juanita ens. ens. ens. het aan jul Universiteit studeer nie!  Julle kan met reg baie trots wees op hom.  Ek sien reikhalsend uit na 'n foto-artikel oor hom. Sterkte met jul gewaardeerde groot taak. (Baie dankie, dis ’n sinvolle voorstel en beslis een wat ernstig oorweeg sal word vir ’n toekomstige uitgawe. Red.)

Elma Ross, Thaba Tshwane:
Dit blyk dat Matieland nie juis belangstel in energie-medisyne, ook soms bekend as elektro akupunktuur / bio-elektro stimulasie / meridian prikkels, ens. Dit verteenwoordig verskillende vorme van Chinese behandeling, wat ook voorkomend kan wees.  Verskeie universiteite in die Weste het reeds hierdie tendens aangegryp. Ook die skoonheidsbedryf het hierdie behandelings begin toepas - teen enorme koste vir die kliënt, en soms sonder die akademiese agtergrond om eintlik die gesondheidswaarde daarvan te teiken. Dis my mening dat, as iemand die geleentheid sou kry om navorsing te doen, dit heel moontlik bewysbaar is dat dit ’n groot verskil vir veral nierlyers kan maak. Maar, alhoewel ek my CV en die opsomming tot my doktorale tesis (aan UNISA, in Opvoedkundige Sielkunde oor die onderwerp van alternatiewe behandelings) aan die Senior Direkteur: Navorsing gestuur het, die potensiaal daarvan klaarblyklik nie ingesien is nie. Om net meer "Westers”-georiënteerde” navorsing te doen, beteken net "meer van dieselfde”. Die Oosterlinge is hoogs ontwikkel, en ons kan baie by hulle leer. (Baie dankie vir die voorstel vir ’n tema. Daar word wel navorsing oor energie-medisyne aan die US gedoen. Betrokkenes is versoek om direk met u te skakel – Red.)



Skryf en wen!
Ons wenbrief kom van ds Gawie le Roux van Noorsekloof (sien bl 5). Twee bottels Landskroonwyn én 'n handige wynsak van die Matiewinkel is op pad na jou toe! Kontak
Landskroon by tel (021) 863 1039 of sien www.landskroonwines.com. Matieland also acknowledges the letter of Ms SMG Davis of Graaff-Reinet and will address the issue
personally. Read her letter at www.matiesalumni.net . Baie dankie ook vir die oulike skrywes van mnr Eben de Jager van Parow (sy bydraes is aanlyn te sien) en
Pierre en Nilla Jordaan van Witsand vir hul interessante reaksie op die artikel oor ou huise op Stellenbosch. Dit kan nie onbeloon gelaat word nie. 'n Gratis intekening op Fynproe is op pad na julle toe! Kontak Fynproe by tel (021) 863-1022 of sien www.fynproe.co.za.
Komaan, laat hoor van jou!
Briewe moet vergesel wees van ’n naam en adres, maar kan op versoek anoniem geplaas word. Briewe moet verkieslik nie langer as 250 woorde wees nie. Rig jou briewe aan: Die Redakteur: Matieland, Afdeling Bemarking en Kommunikasie, Universiteit Stellenbosch, Privaat Sak X1, Matieland, 7602. Briewe kan ook gefaks word na tel (021) 808 3800 of per e-pos gestuur word na media@sun.ac.za.
Noeline Minnaar Boshoff, Kalifornië:
Ek woon in Kalifornië en geniet die laaste 32 jaar om nuus van my Alma Mater te lees. Hier is heelwat Afrikaners in die omgewing en daar word selfs Bybelstudie in Afrikaans weekliks gedoen.
My Afrikaans is miskien nie meer van die beste na 32 jaar in die VSA nie, maar soms was ek baie verontrus deur die verengelsing (ek wil nie eers die woord anglisering hier gebruik nie) van Afrikaans wat ek in sommige artikels waargeneem het.
Dit wil my voorkom dat dit gedoen word om "modern” en "verlig” te lyk. Ek het gevolglik die brief in 'n vorige Matieland van Walter Hassenpflug baie geniet. Die Genootskap van Afrikaners het in Stellenbosch en omgewing ongeveer 'n eeu gelede ontstaan en daarom voel ek dat Afrikaans hoofsaaklik as voertaal op Stellenbosch gebruik moet word. Daar is 'n spreekwoord "When in Rome do what the Romans do”. Dieselfde voel ek moet die leuse wees op Stellenbosch. Diegene wat voel dat hulle nie Afrikaans wil aanleer nie, kan gerus hul opleiding by ander universiteite gaan kry.
My kinders was al drie onder 6 toe ons na Kalifornië verhuis het om verder te studeer. Ons praat nog steeds slegs Afrikaans met mekaar en selfs my kleinkinders praat vlot Afrikaans. Aan almal het ek verduidelik dat 'n mens nie kan verwag om deur die lewe te gaan en te weier om Engels te praat soos sommige anderstaliges in die VSA probeer doen nie, maar dat ons in ons huis alleen Afrikaans sal gebruik.
Ten spyte daarvan het my kinders al drie die hoogste vlak Engels in matriek geneem en A's behaal. Meeste Amerikaners sien nie eers kans om die stywe kursus te neem nie.
Die kennis van Afrikaans het hulle ook gehelp om uit te blink in Frans en Duits, hoewel hulle gekonsentreer het op die wetenskappe. Twee is geneeskundiges en die derde is 'n kriminele navorser.
As 'n navorser by die RGN in Pretoria het my mede-navorser gevind dat kinders wat aan 2 tale blootgestel word voordat hulle 7 jaar oud is, uitblink in wiskunde en musiek. Tydens 'n onlangse studiereis deur Europa, insluitende Skandinawië, was ek ook getref deur die aantal tale wat meeste mense daar magtig is. Geen wonder dat die Hollanders 'n gesegde het dat 'n opgevoede mens ten minste 4 tale magtig moet wees.
Hou Stellenbosch asseblief hoofsaaklik Afrikaans!
Ds Danie Erasmus, Ottosdal:
Baie geluk Matieland met u 50 jaar!
Ek was vanaf 1960 tot einde 1963 'n inwoner van Huis Fred Liebenberg op Stellenbosch. In 1963 was dit my voorreg om as Primarius te dien.
Na 'n tyd as predikant in Swartruggens, Alice en Jamestown, is ek tans 'n emeritus predikant op Ottosdal.
Sterkte Matieland vir die volgende 50 jaar.  Mag God u seën.


Ds Gawie le Roux, Noorsekloof:
Baie dankie vir die praguitgawe van Matieland 2006:2 wat ek so pas ontvang het. Dit was heerlik om weer te kon lees van al die bedrywighede op die kampus asook verwikkelinge op akademiese gebied. Ek was ook geskok om te verneem van vriende wat afgesterf het intussen, onder andere 'n ou klasmaat van my, ds Cobus de Klerk wat op 1 Oktober 1966 ons bruidsmotor na ons huwelik in die Moederkerk bestuur het.
Ja, waarheen het die jare gevlieg? Ons wat nog lewe en gesond is kan maar slegs ons Hemelse Vader dank vir gesondheid en 'n gespaarde lewe. En natuurlik mooi herinneringe.
Wanneer 'n mens begin terugdink aan 'n leeftyd van byna 50 jaar wat agter die rug lê sedert jy op Maties was, dan vloei die ink.
 "…ons klink 'n klein glasie wyn vir al ons skete en pyn en gee ons oor aan die nostaligie…” Laurika Rauch
Februarie 1958 en ek vertrek vir my tersiêre opleiding na Stellenbosch ten einde my roeping na te volg. Te laat vir koshuistoelating – ingeboek by Die Laan 15 in 'n dubbelkamer saam met ’n ligtekop ingenieurstudent, Hans Kretchmer, wat saans sy hare kam voordat hy gaan slaap.
Bewapen met Studentegids en al, loop ek 'n eensame pad om die onberekenbare nuwighede van die Matie-kampus te ontgin. Ons dra gedwee ons akkers as PSO-studente om ons te identifiseer as sotte, kies 'n sotkoning op die inisiasiekonsert in die ou Opvoedkunde-gebou en hou konsert dat die biesies bewe!
Vir (ds) Gideon Boshoff het ons die grootste respek; prof JFA Schwartz leer ons nuwe Matieliedere op die maat van sy voetritme: Burschen heraus, die Universiteitslied, Gaudeamus Igitur en ander nostalgieë.
By die waatlemoenfees by Dagbreek, spreek die rektor, prof HB Thom, ons eerstejaars toe en skilder die wonders van die akademie vir ons in rooskleurige taal asook die verantwoordelikhede van studentwees.
Saamgebondel stap ons hand aan hand met die skoner geslag (gedwonge natuurlik).
Dié van ons wat nie daar geholpe raak met 'n maatjie nie, moes maar die tiekies probeer by die Poskantoor se slingertelefone. Wat ’n frustrasie om te probeer deurkom na 'n spesifieke dameskoshuis en dan tiekie vir tiekie in te gooi in die bodemlose put van die Poswese terwyl jy geduldig wag dat die dametjie aan diens oor die interkom opskree na die koshuisvloer waar jou "date” nog besig is om haar hare droog te maak of te bad. Van terugbel is daar geen sprake nie! Waarheen tog? Praat nie eens van die frustrasies om deur te kom na die betrokke koshuis nie! "Sentrale, asseblief!, skakel my tog deur! My tiekies is gedaan!”
Ons outjies moes die verhale aanhoor van die destydse karakters op die kampus – ene Koos Meyer wat niks daarvan gemaak het om met sy vriende op die verkeerseiland onder aan die punt van Van Riebeeckstraat tent op te slaan nie; met 'n motor sonder enjin die reis na die Strand aangedurf het nie.
Vervoer was eintlik goedkoop(?) en kon jy met 10 sjielings (R1) se petrol maklik heen en weer Strand-toe gery het. Natuurlik indien jy gelukkig genoeg was om 'n motor te besit. 'n Nuwe 1958 Volksie-kewer kon jy vir slegs 582 pond (R1 604) uittrek!
Kleredrag op kampus was soos altyd ’n pyn, veral vir 'n 8-uur of 2-uur klas en natuurlik moes die arme drommels wat Lettere en Wysbegeerte geswôt het met 'n langbroek, baadjie en das die ure op die harde banke trotseer.
Koffieklasse was nog die in-ding waar die klasleier die proffie oorreed om saam te gaan Uitspan-kafee toe. Jy was gelukkig om 'n fiets te kon hê, anders moet jy jou haas tussen klasse om betyds te wees.
Ons manne het altyd geweet lente is hier wanneer die damesstudente met "bobby socks” en "kid gloves” by hulle veelkleurige lenterokkies, rompe en bloese begin klasdraf. Natuurlik was dit ook die in-ding om saans na aandete met jou geliefde in Die Laan te gaan stap. Met die koms van die lente is die liefde ook in die lug en voel jy maar bra depressief indien jy nie ook in daardie kategorie val nie. Tweede beste is 'n skiet vir koffie of nog goedkoper – 'n skiet vir Sondagaand se kerk in 'n volgepakte Studentekerk waar Oom Kosie Gericke die diens lei en dan veral wanneer jy sit en dophou wie het nou vanaand vir wie "uitgeturn”!
Ja, dit was wonderlike dae daardie!
Die lewe was goedkoop. As jy privaat loseer eet jy twee heerlike etes per dag vir twaalf pond tien (R25) per kwartaal by Bergville langs die Studentekerk. Jy woon in 'n enkelbuitekamer in die agterplaas vir 'n skrale 8 pond (R16) per kwartaal as jy gelukkig is. By die Uitspan-kafee kon jy 'n "Toast Special” koop vir 'n skrale 2/6 (25sent). Stap jy dan om die draai in Andringastraat voor die CSV-gebou verby, moet jy teen die aand lelik koes vir die waterbomme wat van die boonste verdieping op jou kop reën sonder aansiens des persoons.
Paartjies wat teen die aand verlief verby Van Riebeeck-huis langs die watervoortjie stap, moes menigmaal groot skrik as 'n lewensgrootte fopspinnekop skielik uit die bome op hulle neersak.
Intervarsity was die toppunt op die jaarprogram. Dan skiet jy jou meisie vir die "sing-songs” asook na die groot geleentheid waar jy jou stem hees skree vir Maties se span. Dit was die dae van onder andere Jannie Engelbrecht, Dawie de Villiers en Avril Malan.
Op kulturele vlak het ons kennis gemaak met oom Philip McLachlan en die Stellenbosse Universiteitskoor (dit was die korrekte spelling); prof Gawie Cillié, Chris Swanepoel en later Pieter van der Westhuizen en die kerkkoor van Stellenbosch-Sentraal. My eerste kennismaking met die Sangfees was toe PSO saam met Harmonie, Monica en Wilgenhof deelgeneem het met o.a. uittreksels uit "Cardasfürsten” en "Massas” in the cold, cold ground” onder leiding van Faure Loots. Dit was 1958 en die dae van die groot sangfeeskore wat die Stadsaal se verhoog gevul het, versier met Aronskelke uit die omgewing. Wonderlike herinneringe vir my spesifiek, want deur die Sangfees het ek my lewensmaat ontmoet.
Daar was ook iewers 'n diskrete restaurantjie waar Limpie Basson soms jazz clavier gespeel het en 'n beskeie Deon Louw gedurende middagpouses bietjie Errol Garner op die klavier in die oefenlokaal van die ou Conserve getokkel het.
Stellenbosch 50 jaar gelede! Wat het nie alles intussen gebeur nie! "O treurigheid op note, ek staan op eie pot!” Maar ek sê dankie vir my Alma Mater – vir hulle wat ons voorgegaan het; vir die lief en die leed; vir die mooi stewige herinneringe aan 'n pragtige erfenis!
"…waar die Eersterivier se walle sier tot nou!”
Ongelooflik! Dis al wat mens kan sê oor die wonderlike vertellings wat Matieland ontvang het na ons in ’n vorige uitgawe MatiesAlumni van die jare 50 versoek het om die pen op te neem. Natuurlik het ons nie naastenby genoeg spasie om al die briewe te plaas nie, en alhoewel hieronder dus net  enkele uittreksels verskyn is die volledige briewe daarby beskikbaar in .pdf formaat.

Dr AGS Gous van Queenswood, skryf:
Op 82 jaar is Matieland in die pos altyd 'n fris bries wat jou langs geheuelaan langs Eersterivierlaan af waai.Jy word herinner daaraan dat die Stellenbosch ambience van jou jeug lewens-skeppende kreatiwiteit gepak het. Myne was tydens 1943 – 1949. Jy besef weereens dat die Matie spesifiekheid uniek in die wêreld is, en dat daar geen krag is wat meer kan pols gee aan jou spiritualiteit, intellek, liggaam, verhoudings en liefde, as die vibrasie in die skaduwee van die eike en die pieke nie. Dit laat jou snags kliphard swot, luister en uit volle bors sing in die kerk, met intervarsity die Ikeys voos duik, gepakklere en gedas dien en debatteer op die studenteraad, en saans in die maanskyn in die Laan vir jou meisie vertel hoe lief jy haar het. (As Simon se eike maar kon praat!!!)... 
Volledige brief van Dr AS Gous, Queenswood


Mev Helene (née Steyn) Smit, Somerset-Wes:
Ek was 'n Matie 1941 – 1943 en het in Sonop gebly. Destyds was dit oorspronklik vir mansstudente gebou maar ons dames het daar ingetrek omdat daar nie genoeg dameskoshuise was nie. My kamer was op die 2de verdieping regbo die ingang. Ek is 84 jaar oud maar Stellenbosch is baie spesiaal vir my en my gesin. Ek kan nog baie goed onthou hoe die Stellenbosch van destyds gelyk het en al die kuierplekke. Voor Sonop was die hokkievelde. Aan die agterkant van Sonop was 'n dennebos. En dan langsaan, Dagbreek, oorkant die pad langs Dagbreek was die ou Stellenbosch Hospitaal. En verder af in Victoriaweg was die Stellenbosch Hoërskool. Nou Paul Roos Gimnasium...
Volledige brief van Mev Helene Smit, Somerset-Wes


Klaus Werner Pakendorf , Stellenbosch
Dit was so teen die middel van Februarie 1958, dat ek per trein vanaf Goodwood (Noordelike voorstad van Kaapstad) na Stellenbosch op pad was. Agter my was 12 jaar van skoolopleiding, eers aan die Hoërskool Stutterheim in die Oos-Kaap, en vir die laaste twee jaar aan die bekende SACS in Kaapstad. Aangesien ek geen geld gehad het om dadelik met my studies te begin nie, het ek vir een jaar by die Onderwys Afdeling van die Kaapse Provinsiale Administrasie in Waalstraat gewerk. Dit was my eerste ontmoeting met die Afrikaans-sprekende Staatsdiens Administrasie...
Volledige brief van Klaus Werner Pakendorf, Stellenbosch


Pierre en Nilla Jordaan, Witsand:
Alhoewel ek (Nilla) as pastoriekind van 'n Studenteleraar byna my hele lewe tussen die studente gewoon het, is ek eers in 1960 Universiteit toe. In die vyftigerjare het die Neelsie nog nie bestaan nie en aangesien die meeste van die paar kafees op die dorp nie laat saans oop was nie, het studente saans na kerk in groot getalle die studentepastorieë besoek waar daar ALTYD tee, koffie en koek was. Ek kan vandag nog met gemak groot skinkborde tee en koffie bedien! Die meisies moes Sondae 22:00 in wees en die mans moes hulle betyds aflewer na die kuier. Eers dan kon hulle van baadjies, dasse en langbroeke ontslae raak omdat dit verpligtend was om Sondae 'n pak klere te dra as hulle die koshuis verlaat. Meisies moes natuurlik te alle tye rokke buite die koshuis dra. Langbroeke was taboe, selfs op kampe! Met die besoek van 'n groep Ikey-meisies by een van ons kampe was ons erg geskok omdat hulle "slacks” aangehad het!
Volledige brief van Pierre en Nilla Jordaan, Witsand

Johan Loubser, Kleinmond
Stellenbosch het beslis baie anders gelyk toe ek in 1958 'n eerstejaarstudent was. Dit  was nog die tyd van die eerstejaarstelsel. Al die eerstejaarmans was in Dagbreek, met in elke seksie 'n senior student as raadgewer. 'n Raadgewer, mnr Bouwer Bouwer, stuur my as nuwe eerstejaartjie om iets by 'n mede raadgewer, mnr Jannie Momberg, vurige studente NP-lid, te gaan haal. Die toe nog vir my 'n onbekende  en ek spreek hom per abuis aan as mnr Bromberg en word behoorlik die kop gewas vir so 'n flater. Ja, studente en hul politiek het ook baie verander...
Volledige brief van Johan Loubser, Kleinmond


Prof Malvern van Wyk Smith, Grahamstad:
Ek mik al lankal om te reageer op u uitnodiging in die Somer 2006/2007 uitgawe van Matieland aan alumni uit die stigtersjare van die blad om so 'n bietjie hulle geheue te laat loop oor die Stellenbosch van daardie dae. Ek is as’t ware ’n bloubloed-Matie, want ek het daar skoolgegaan vanaf Std 2 (1946), het matriek behaal aan Paul Roos en was toe vier jaar lank (1955-58) op die akker. Terloops, dit was juis in 1946 dat die seunskool vanaf die ou "Boys' High" in Victoriastraat (nou die Departement Beeldende Kunste) na Paul Roos Gimnasium op die Noordwal verhuis het - klein soos ons was, moes ons elkeen ons eie lessenaar dwarsdeur die dorp dra! ...
Volledige brief van prof Malvern van Wyk Smith, Grahamstad


Mev Corrie Swart (née Janse van Noordwyk), Bredasdorp, skryf:
"Ma, ek wil gaan drama swot”, het my laat terugdink aan my enkele jaar by die ou Drama Department in 1964. Ons was nege meisies wat die kursus in Drama en Voordrag vir onderwysers geloop het.  Wonder soms waar almal hul bevind.  Wat ’n wonderlike jaar met dosente soos Rina Botha, wat my 'n gly in imperial mints gegee het - aan begin van elke klas het elkeen 'n mint gekry om te suig...
Volledige brief van Corrie Swart, Bredasdorp


Mnr Eddie Rademeyer, Louis Trichardt:
Ek skryf oor die US koor se 70ste reünie. Toe ek in 1948 met die trein uit Rhodesië op Stellenbosch aangekom het, het ek baie gou by die musiekbedrywighede ingeval. Daar was wel 'n US koor maar daar was ook ander kore, kore wat gesig is uit koshuispare, een manskoshuis en een dameskoshuis.  Sangfeesaand was dan ook die jaarlikse vertoonplek waar al die kore saam kon optree. In 1948 was ons koorleier Ernie Marais, 'n tokkelok. My eerste sangfeesaand was 'n wonderlike ondervinding en die emosie wat dit by my opgewek het is nog steeds deel van my lewe...
Volledige brief van Mnr Eddie Rademeyer, Louis Trichardt


Mrs SMG Davis, Graaff-Reinet:
Not one white South African, especially an Afrikaner, has escaped the brainwashing which has firmly fixed the concept of "previously disadvantaged people” in every South African’s awareness. For white Afrikaners it means that they are weighed down by guilt and are now bending over backwards to proclaim not only their willingness to be recognized as members or descendants of the so-called pariahs of yesteryear, but also their all-encompassing willingness to now accommodate the politically correct way of putting the politically correct number of the "previously disadvantaged” in every business, university, sport and even social gathering. By this over-emphasis of the "correct” numbers of certain races to be included in every institution upon pain of having the swearword "racist” branded on your forehead, the legacy of the past is hanging like the proverbial albatross around our necks, and provides for a society where political correctness is valued more than the natural course of progress, following which would let ability and excellence provide a clean way of building the future.
Letter from Mrs SMG Davis, Graaff-Reinet
Terug na bo
Terme en Voorwaardes(.pdf)
Alle regte voorbehou © 2007 - 2010 Stellenbosch Universiteit