REGSHULPKLINIEK
Personeel:
- Direkteur: Mnr Kruger van der Walt
- 3 Prokureurs:
- Stephan van der Merwe
- Marion Hattingh
- Koos Geyser
- 8 Kandidaat-Prokureurs
- 2 Geregistreerde Skuldberaders
- 1 Paralegal
- 3 Administratiewe Personeellede
Die Suid-Afrikaanse regsstelsel kan slegs doeltreffend wees as dit toeganklik is tot en geloofwaardig is in die oë van die gewone mens. Die Regshulpkliniek, geleë te Banhoekweg 44, Stellenbosch, funksioneer as 'n volwaardige prokureurskantoor, wat gratis regsdienste bied aan behoeftiges, terwyl daar terselfdertyd opleiding verskaf word aan finalejaarstudente en kandidaatprokureurs.
Die Kliniek het tans 'n personeel van 18 wat die impak van dienste aansienlik uitgebrei het. Die Direkteur, drie gekwalifiseerde prokureurs, agt kandidaatprokureurs, (deel van die Departement Justisie se Mentorprogram), een paralegal en twee en dertig finale jaarstudente konsulteer jaarliks met ongeveer 3 000 kliënte. Die prokureurs en kandidaat-prokureurs verskyn in landdroshowe in 'n wye area in die Boland. Die Kliniek koester ook 'n kultuur van burgerlike verantwoordelik deur die aanbieding van werkswinkels oor uitsetting, skuldverligting en gesinsgeweld, spesiale voorligtingsessies vir bejaardes, 'n beradingsprojek in samewerking met Departement Sielkunde, Finansiële Geletterdheidsprojek in samewerking met Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Vrouedag en Jeugdag word ook jaarliks gevier deur die aanbieding van lesings en aktiwiteite. Verder voorsien die Regshulpkliniek ondersteuningsdienste aan die Ceres, Klapmuts en Franschhoek Advieskantore.
Behoeftiges word van 'n verskeidenheid regsdienste voorsien soos egskeidings, arbeidsdispute, kontraktuele aangeleenthede, familieregskwessies en skuldverligting.
'n Hoofspesialisasiegebied van die Regshulpkliniek is plaasuitsettings, tans een van die belangrikste regskwessies in die Boland-platteland. Verblyfsreg van werkers op plase hang hoofsaaklik af van dienskontrakte. Swak werksverhoudings lei dikwels tot ontslag, gevolg deur aansoeke om uitsetting. Uitsettings en gevolglike dakloosheid bedreig die menseregte van plaaswerkers en hul kinders - hul word swerwelinge met min hoop om weer wonings te vind en hul familielewe te hervat.
Die volhoubaarheid van die bogenoemde dienste is afhanklik van befondsers vir wie die bevordering van menseregte deur toegang tot geregtigheid belangrik is.